Kalender

Aswoensdag - 14 Februarie (Lydenstyd begin)

 

Basaar - 3 Maart (Waar help jy?!)

revolusion-FB1

 

families-FB1

 

Wes Kaap sinode



Paarlbergtoring

104_0427

Picture2

Picture_3

 
In die Noorder-Paarl aan die voet van die Paarlberg staan ‘n kerkgebou waar omtrent ‘n duisend mense op ‘n Sondagoggend aanbid in twee eredienste. Die gemeente wat daar hulle sentrum het, het ‘n ryke geloofstorie. Wat hier volg is slegs enkele grepies hieruit.

 Die eerste stryders

Paarlberg gemeente se naam was aanvanklik Paarl-Noordeind. Die gemeente het in 1973 ontstaan vanuit die gemeente Paarl-Vallei, met ‘n klompie lidmate wat eredienste in die skoolsaal van Noord-Eind Primêr bygewoon het. Hierdie mense het skouer aan die wiel gesit en saam met hulle leraar, Ds Bert Struwig, hard gewerk om ‘n pastorale bedieningstruktuur te vestig en ‘n kerkgebou te kon oprig in 1975.

 

Spanwerk

Paarlberg gemeente het ‘n tradisie van goeie samewerking en spanwerk tussen die predikante. Ds Niekie Marais het in 1979 by ds Struwig aangesluit en ds JC Smit in 1984. Die Noorder-Paarl het vinnig uitgebrei, met nuwe huise in Groenvlei en later ook noord van Kerkstraat. Ds Hugo Biermann is in 1989 beroep en kort daarna in 1992 ook ds Pieter van der Walt. Toe ds Marais in 2006 aftree, is ds Christo van Staden beroep en met ds Smit se aftrede in 2008, ds Bernard Malherbe. In 2007 is Pierre van Rooyen as voltydse jeugwerker in die predikantespan aangestel en in 2009 is hy opgevolg deur Johan Visser.

 

Geboueskuld betaal

Die gemeente het in 1988 ‘n geweldige skuldlas gehad van R350 000. Die kerkgebou moes afbetaal word en dit het menslik onmoontlik gelyk. Na ds Struwig se aftrede is nie weer beroep nie. Die kerkraad het leiding gegee: “Elkeen gee uit dankbaarheid en na sy vermoë”. Die skuld is binne twee jaar afbetaal. Dit was vir die gemeente ‘n grootse oomblik.

 

Gestuurde visie

Sedertdien het die gemeente gegroei, nie net in getalle nie, maar ook in diensbaarheid en getuienis na buite. Die visie van “gestuurdheid” het posgevat en die gemeente strewe daarna om onder leiding van die leraars en kerkraad daadwerklik gasvry te wees, oop om ander – ook “vreemdes” - te ontvang wat saam vir God kan aanbid. Daar word ook steeds meer uitgereik na mense in nood in ons eie buurt en dorp.

 

Kleingroepe

Mense kom ook weekliks in nagenoeg 50 kleingroepe bymekaar om mekaar te help om naby aan Jesus te leef en om uit te reik oor grense. Hierdie word in ‘n groot gemeente deur baie mense beleef as die beste plan vir die “versorging” van gelowiges.

 

Verhouding met die VGK

Die verhouding met die VGK Immanuel is tradisioneel goed en het deur die jare net verstewig. Die huidige leraar van Immanuel, ds Tony Masent, speel hierin ‘n mooi rol. Die belewing van geloofseenheid by gesamentlike byeenkomste in die laaste tyd, bevestig dit.

‘n Grondeis word ‘n geleentheid

In 1998 is ‘n grondeis ingedien deur die Anglikaanse gemeente St Stephens teen Paarlberg se “kerksaal”. Hierdie gebou, alom bekend as die “kleinkerkie”, waar die gemeente jare lank kinderdienste en jeugbyeenkomste gehou het, het voor die gedwonge verskuiwing van mense onder die Groepsgebiedewet aan die St Stephens gemeente behoort. Die kerkraad het besluit om die eis nie teen te staan nie, die onderhandelingskommissies het uitstekend saamgewerk, en die kerkie is in 2004 by ‘n feestelike geleentheid oorhandig aan die oorspronklike eienaars. Die kerkgeboutjie is nie meer ‘n simbool van verdeeldheid nie, maar ‘n simbool van versoening en vandag is daar baie goeie kontak tussen die NG Kerk en Anglikane in die dorp.

Nuwe sentrum

Met ‘n gedeelte van die geld wat vir die St Stephens kerkgebou ontvang is en ruim bydraes van lidmate in ‘n finansieel moeilike tyd, is daar in 2010 ‘n doelmatige sentrum langs die kerk gebou. Nou het die gemeente ‘n gesellige ruimte, ‘n kombuis en twee kantore - vir ons jeugwerker en vir Paarl Jeuginisiatief, een van ons uitreik-aksies na behoeftige jongmense.

 Toekoms: ‘n Welkom-plek

Mag die aanwins in ons geboue kompleks daartoe bydra dat die gemeente ‘n ruimte is waar baie mense welkom voel en God beter leer ken, en van waar ons uitgaan om in sy Naam te lewe, mense te help en ons geloof uit te leef.